GAUTENG. – Sewe vermeende rowers is Saterdagaand deur Johannesburg-metropolisie in Eldorado Park gearresteer.
Supt. Xolani Fihla, woordvoerder vir JMPD, sê metrobeamptes was besig met roetinepatrollie toe hulle inligting van ‘n silwerkleurige Toyota Avanza, wat na bewering in gewapende rowe in Eldorado Park betrokke is, ontvang het. Die voertuig is spoedig op die kruising van Golden Highway en Unionrylaan in Eldorado Park opgemerk en gestop.
‘n Behoorlike deursoeking het vyf ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en messe in die voertuig opgelewer. Beamptes het ook twee beursies met bankkaarte, drie selfone, ‘n skêr, ‘n skoolsak en ‘n hookah-pyp, gekonfiskeer. Met verdere ondersoek is ontdek die voertuig is as gesteel aangemeld. Die voertuig is gekonfiskeer en by Lenasia-polisieskut vir verdere ondersoek ingehandig.
Die sewe verdagtes is gearresteer en by Eldorado Park-polisie aangehou. Hulle staan op aanklagte van gewapende roof, besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van ‘n gesteelde motorvoertuig tereg.





