NOORDWES. – Sewe mans wat van onwettige jag en betreding op ‘n plaas beskuldig word, is Maandag tydens hulle eerste verskyning in die Atamelang-landdroshof op borg van R500 elk vrygelaat.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring David Lefifi (52), Alphious Gaolaolwe (29), Tlogelang Mmono (39), Lebogang Lefifi (44), Mpho Mathakathata (38), Daniel Lefifi (32) en Bareng Lefifi (22), is Sondagoggend vroeg in Setlagole in hegtenis geneem. Die polisie is na ‘n plaas ontbied waar die verdagtes deur die plaaseienaars vasgekeer is. Sewe dooie duikers ter waarde van sowat R35 000 is glo deur die polisie in ‘n Nissan NP200-bakkie gevind, waarna op ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper beslag gelê is.
Die saak sal weer op 30 September in die Atamelang-landdroshof voorkom.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris, sê: “In ’n poging om ’n veilige omgewing in gemeenskappe te skep, het die SAPD strategieë soos gemeenskapspolisiëring en landelike veiligheidsstrategieë ontwikkel en geïmplementeer, veral onder boere, tradisionele owerhede en aangrensende gemeenskappe. Hierdie strategieë is bedoel om vreedsame naasbestaan en respek vir individuele regte sowel as die oppergesag van die reg te bevorder. Die SAPD doen ’n beroep op lede van die publiek en gemeenskappe wat naby plase, insluitend wildplase, woon, om nie te betree of wild te jag of vuurmaakhout te versamel sonder toestemming nie, aangesien sulke handelinge deur die wet verbied word.”





