SAVA, MADAGASKAR. – Die tropiese sikloon Gamane sal na verwagting binnekort die noordoostelike kus van Madagaskar tref. Gamane is as ’n kategorie 1-orkaan geklassifiseer.
Binne die volgende paar uur sal die stelsel oor die Sava-provinsie beweeg. Wanneer dit oor die land beweeg, sal die windspoed en sterkte verswak.
’n Rooi sikloonwaarskuwing is vroeg vanoggend vir die Diane- en Sava-streke uitgereik. Verdere waarskuwings van stormsterkwind en hoë reënval is vir die noordoostelike provinsies uitgereik.
Inwoners is gewaarsku oor vloede, modderstortings en die moontlikheid van gelokaliseerde ontruimings.
Hulle is ook gemaan om versigtig vir stilstaande poele water na die storm te wees. Riool en ander skadelike stowwe kan in die water beland en tot siektes lei.
Die stelsel sal na verwagting eers suidwes oor die land beweeg en dan suidoos. Teen 29 Maart sal dit weer oor die Indiese oseaan wegbeweeg.
Bronne: Crisis24, Cyclocane





