KWAZULU-NATAL. – Simba en Nala, leeuwelpies van ongeveer 4 maande, is as rondloperdiere in ‘n plek van veiligheid geplaas nadat hulle by ‘n huis in Durban gekry is.
Jacques Peacock, woordvoerder vir die NDBV, sê die Kloof-en-Hoofweg-DBV het op 21 Mei by ‘n huis op die welpies beslag gelê. Hulle is sedert Saterdag by ‘n plek van veiligheid by ‘n geakkrediteerde natuurlewefasiliteit van die NDBV geplaas.
Peacock sê ‘n klagte oor die welpies is opgevolg met ‘n inspeksie, maar die huisbewoners het ontken dat hulle enige diere het. Die twee leeuwelpies is die volgende oomblik in die oprit van bure opgemerk. Beide huise se inwoners het eienaarskap van die welpies ontken, waarna die mannetjie en wyfie weggeneem is. Vir die veiligheid van die welpies word die fasisiliteit waar hulle gehou word, nie geïdentifiseer nie, alhoewel dit ten volle toegerus is om na hulle behoeftes om te sien.
Die polisie het ‘n dossier oopgemaak en die NDBV sal hulle in die ondersoek bystaan. Die NDBV is gekant teen die aanhou en teel van inheemse wild in Suid-Afrika. Dit is ook onwettig om die diere sonder die nodige permitte aan te hou, of te teel vir ander redes as vir bona fide bewaringsdoeleindes.





