MPUMALANGA. – Die skaalmeester (48) van die Wonderfontein-weegbrug is Saterdag vir beweerde korrupsie in hegtenis geneem. Hy sal vandag in die Belfast-landdroshof verskyn.
Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê na bewering het ‘n vragmotorbestuurder Saterdag op die N4-hoofweg tussen Belfast en Wonderfontein-weegbrug gery toe hy deur ‘n verkeersbeampte in volle uniform en gemerkte voertuig gestop is. Hy is na die weegbrug beveel, waarna die verkeersbeampte hom gevolg het. Die skaalmeester het gesê die vragmotor is 7 ton oorlaai, waarna die verkeersbeampte weggery het.
Die vragmotorbestuurder is gedreig om R6 000 te betaal of hy word vir die oorlaaide vrag gearresteer. Met ‘n oproep na die vragmotoreienaar is R5 000 oorbetaal, wat hy aan die skaalmeester moes wys. Hy is beveel om geld by die Puma-vulstasie te onttrek, waar hy slegs R3 000 kon onttrek. R1 000 wat hy in sy besit gehad het, is ook geëis. Die vragmotorbestuurder het foto’s van die kontant geneem en aan die skaalmeester oorhandig en moes ‘n verdere R2 500 per EFT oorbetaal.
Die vragmotoreienaar het die insident aan die padverkeerbestuurskorporasie rapporteer, wat dit by die Valke aangemeld het. Met aankoms by die skaalmeester is R1 500 in sy besit gevind en ‘n verdere R2 500 wat onder bakstene weggesteek is, is uitgewys. Die reeksnommers het ooreengestem met die foto’s wat geneem is en ‘n totale bedrag van R6 480 is teruggevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem en vir sy hofverskyning aangehou.





