Skietery in Marlboro eis twee van taxivereniging

Lees ook :

Foto's: City of Johannesburg Public Safety

GAUTENG. – Twee persone het Donderdag in Marlboro gesterf toe verdagtes in ‘n BMW op ‘n Audi en Mahindra geskiet het. Die polisie ondersoek ’n saak met twee aanklagte van moord en vyf aanklagte van poging tot moord. Een van die oorledenes is as Victor Molefe Moekeletsi, voorsitter van Armsta (Alexandra Randburg Midrand Sandton Taxivereniging), geïdentifiseer.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens inligting het die Audi en Mahindra-bakkie saam in 8ste Straat in die Marlboro voorstad van Johannesburg gery toe hulle deur verdagtes in ‘n wit BMW X5 aangeval is. Die bestuurder van die Audi en ’n passasier in die Mahindra-bakkie is op die toneel dood verklaar. Vier ander insittendes van die bakkie het skietwonde opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem. Volgens rapportering het die bestuurder van die Audi tydens die skietery beheer verloor, waarna ‘n voertuig met twee insittendes teen die Audi gebots en hulle ook beseer is.

Die verdagtes, wie se identiteit onbekend is, se voertuig is ’n paar kilometer van die toneel af verlate gevind. Die motief vir die skietery word vermoedelik aan taxigeweld gekoppel, aangesien een van die slagoffers ’n lid van ’n plaaslike taxivereniging in Alexandra is.

“Polisie-ondersoeke is aan die gang,” het Nevhuhulwi gesê.

Rhulani Mgwambane, woordvoerder vir die Stad Johannesburg se gemeenskapsveiligheid, sê in ‘n verklaring die moorde op Victor Molefe Moekeletsi, voorstitter van Armsta, en sy lyfwag, word veroordeel. ‘n Tweede lyfwag en ‘n motoris weg tans vir hulle lewens in ‘n hospitaal nadat hulle in die kruisvuur beland het. Die voorval het ongeveer ‘n minuut se ry van die Alexandra-taxivereniging se kantore af gebeur. Dit word volgens die verklaring as ‘n poging beskou om taxi-oorloë aan te wakker.

Dr. Mgcini Tshwaku, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die Johannesburg-metropolisiediens (JMPD) opdrag gegee om Alexandra, Malboro en omliggende roetes met taktiese en K9-eenhede te versterk om vergelding te voorkom en saam met die SAPD die verdagtes op te spoor. Die departement van openbare veiligheid het taxiverenigings, gemeenskapsleiers en inwoners versoek om nie wraak te neem nie en die gereg sy gang te laat gaan.

“Ons innige meegevoel gaan aan die Moekeletsi-familie, die lyfwag se geliefdes en Armsta-lede,” lui die verklaring van die departement van openbare veiligheid.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief