MPUMALANGA. – Twee mans, onderskeidelik 37 en 40 jaar oud, verskyn vandag (Vrydag) in die Leslie- perdiodieke hof, nadat hulle glo Dinsdag in ‘n skietgeveg met die polisie was en daarna in hegtenis geneem is. ’n Polisiekonstabel (38) is in die kruisvuur gewond en is met ‘n heupwond in ‘n hospitaal opgeneem.
Lt.kol. Jabu Ndubane, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Leslie- sigbare polisiëringslede was besig met patrolliedienste toe hulle ‘n gewapende rooftog by ‘n drankwinkel in Leslie opgemerk het.
’n Groep van sowat sewe gewapende verdagtes, geklee in glimbaadjies, het na bewering voorgegee om polisiebeamptes te wees wat vervalste drank ondersoek. Ná sowat ’n uur het hulle glo probeer om die eienaar met wapens te beroof. ‘n Skietgeveg het ontstaan toe die polisie op die toneel opdaag. Die verdagtes het gevlug, maar twee is later vasgetrek waar hulle in ’n stoorruimte weggekruip het. Twee voertuie, ’n BMW met ’n vals registrasienommer, en ’n Ford Focus, wat vroeër vanjaar in Gauteng gesteel is, is op die toneel agtergelaat.
Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is van poging tot moord, gewapende roof en die besit van vermoedelik gesteelde voertuie aangekla. Die polisie het op die twee voertuie beslag gelê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





