GAUTENG. – Die ministerie van justisie en grondwetlike ontwikkeling het bevestig dat vyf mense, van wie twee oorlede is, by die Booysens-landdroshof geskiet is. Luidens ‘n verklaring deur die ministerie is die toneel steeds aktief en is wetstoepassingsagentskappe tans besig om die situasie te hanteer.
Andries Nel, die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, sal na die toneel gaan om die situasie te beoordeel, terwyl die ministerie wag op verdere bevestigde besonderhede van wetstoepassingsagentskappe en hofbestuur.
Die ministerie het die voorval veroordeel en aangedui dat daar saam met die relevante veiligheids- en wetstoepassingsowerhede gewerk sal word om te verseker dat die nodige maatreëls ingestel word om hofgebruikers en personeel te beskerm.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, brig. Brenda Muridili, het lt.genl Tommy Mthombeni, provinsiale polisiekommissaris, omstreeks 10:30 hulpbronne na die landdroshof gemobiliseer. Altesaam vyf persone is by die hoofingang geskiet, van wie twee op die toneel dood verklaar is en drie met skietwonde na ‘n hospitaal geneem is.
Die groep wat geskiet is, was volgens beskikbare inligting in die hof om ondersteuning te bied aan ’n beskuldigde wat op aanklagte van moord en poging tot moord, in April 2025 in Mondeor gepleeg, verskyn het. Een van die beseerdes is geïdentifiseer as die prokureur wat die beskuldigde verteenwoordig.
Drie mans met pette het glo die groep genader terwyl hulle die hof verlaat het, op hulle geskiet en daarna in ’n vermoedelik gekloonde wit Audi van die toneel gevlug. Die motief vir die skietery is in hierdie stadium onbekend en ondersoeke duur voort.





