GAUTENG. – Vier skole in die Moot van Pretoria het standpunt teenoor leerlinge se gebruik van selfone tydens die skooldag ingeneem.
Die Gereformeerde Skool Dirk Postma in Waverley, HTS John Vorster in Rietfontein, Hoërskool Oos-Moot in Villieria en Hoërskool Wonderboom in Wonderboom-Suid het ‘n selfoonbeleid ingestel om leerlinge meer op hul skoolwerk te laat fokus.
Hierdie skole sal selfoonvry wees. Dit beteken nie geen selfoon mag op die skoolterrein wees nie. Dit moet wel afgeskakel en gebêre wees, selfs gedurende pouses. Daar is toepaslike straf indien die ingestelde reëls oortree sou word.
Lees Hoërskool Oos-Moot se skrywe hier onder:
Geagte Ouers/Voogde
SELFOONVRYE SKOOLOMGEWING 2024
Ons stel u hiermee graag in kennis van ‘n belangrike implementering wat vanaf die vierde kwartaal van
hierdie jaar by die skool in werking tree.
Die skool implementeer vanaf 1 Oktober die intreefase van ‘n selfoonvrye skoolomgewing. Dit is deel van
ons voortdurende strewe om ‘n positiewe leer- en sosiale atmosfeer vir ons leerders te skep. Dié reëling
geld van die oomblik wat die leerders die skoolterrein betree tot die skool verdaag.
- Redes
Afleidings
Verbetering van leerders se akademiese prestasies deur afleidings te verminder.
Selfone lei leerders se aandag van hul studies af, wat hul konsentrasie en akademiese prestasie
negatief beïnvloed.
Leerders fokus eerder op sosiale media en boodskappe as om aandag aan onderrig te gee.
Gebrek aan persoonlike interaksie
Leerders kan hulself isoleer deur eerder op hul fone te fokus as om met maats te gesels.
Dit beperk sosiale ontwikkeling en kan ‘n negatiewe impak op verhoudings en interpersoonlike
vaardighede hê.
Oneerlikheid
Selfone maak dit makliker om tydens toetse en eksamens af te kyk, inligting op die internet op te soek of antwoorde met maats te deel, wat akademiese integriteit ondermyn.
Onbehoorlike inhoud
Toegang tot onvanpaste of gewelddadige inhoud is ‘n risiko, aangesien leerders via hul fone toegang tot webwerwe of apps kan kry wat nie geskik is vir hul ouderdom nie.
Sosiale druk
Selfoongebruik kan ook druk plaas op leerders om by die nuutste tegnologie of modeneigings aan te pas, wat bydra tot sosiale ongelykhede en selfbeeldkwessies.
Gedragskwessies
Die konstante gebruik van selfone kan impulsiewe gedrag aanmoedig en leerders se vermoë om hul
aandag te fokus of take af te handel, benadeel.
Kuberkwaadwilligheid en boelie
Selfone vergemaklik kuberboelie, waar leerders ander kan teiken deur middel van sosiale media,
boodskappe of aanlyn platforms.
Dit kan emosionele skade en angs veroorsaak.
Al hierdie faktore beklemtoon hoekom ‘n selfoonvrye skoolomgewing ‘n positiewe impak op die
akademiese en sosiale welstand van leerders kan hê.
- Reëlings
Alle leerders se selfone moet heeltemal afgeskakel (nie op silent gestel nie) en gebêre wees
wanneer hulle by die skoolterrein inkom.
Die selfone bly vir die volle duur van die skooldag afgeskakel, insluitend pouses.
Indien ‘n selfoon gesien word, lui of vibreer, sal dit gekonfiskeer word.
Gekonfiskeerde selfone kan na twee weke slegs deur ‘n ouer by die skool afgehaal word. ʼn
Bedrag van R100 per toestel is betaalbaar vir stoorkoste.
Indien ‘n leerder ongesteld voel of siek word, sal hulle dit by hul graadvoog aanmeld, waarna die
skool u direk sal kontak.
Ons is oortuig dat dit tot die voordeel van elke leerder sal wees en sal help om ‘n meer gefokusde
leeromgewing te skep en doen hiermee ‘n beroep op u samewerking en ondersteuning om hierdie inisiatief suksesvol te maak.
Baie dankie vir u begrip en ondersteuning.
Oos-Moot groete
S THERON
HOOF
Bronne: Hoërskool Oos-Moot, Rekord, Pretoria FM





