GAUTENG. – Die skoolhoof van Hoërskool Roodepoort is Maandag in die hand gesteek toe sy tussenbeide getree het om die situasie te kalmeer tydens geweld wat tussen leerlinge van Hoërskool West Ridge en Hoërskool Roodepoort uitgebreek het. Die departement van onderwys in die provinsie het die voorval ten sterkste veroordeel.
Luidens ‘n verklaring van Steve Mabona, onderwyswoordvoerder, het ‘n rusie Vrydag tussen die twee skole uitgebreek en dit is op sosiale media versprei. Maandag het ‘n groep leerlinge van West Ridge glo wraak gesoek en na Hoërskool Roodepoort opgeruk, waar voertuie met klippe gegooi en leerlinge aangeval is. Die skoolhoof is beseer toe sy probeer het om die situasie te kalmeer. Sy is vir behandeling na ’n hospitaal geneem en intussen ontslaan. Drie leerders van Hoërskool Roodepoort het ernstige beserings opgedoen en ontvang mediese behandeling.
Ses gr. 12-seuns van Hoërskool West Ridge is geïdentifiseer en het Dinsdag skorsingsbriewe ontvang, waarvolgens hulle vir sewe dae van die skool verwyder word. Hulle sal later voor ’n dissiplinêre komitee verskyn. Verdere skorsings kan volg namate die ondersoek vorder.
Die departement van onderwys se psigososiale span en werknemerwelstandseenheid sal albei skole besoek om ondersteuning te bied. Die Roodepoort-polisie is ook versoek om veiligheid te verskerp en onverwags soek-en-beslagleggingsoperasies by die skole uit te voer.
Matome Chiloane, LUR vir onderwys, sê: “Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat geweld in ons skole posvat, waar die veiligheid van leerders en opvoeders nou in gevaar is. Dit is selfs meer ontstellend dat ’n skoolhoof, in haar poging om leerders te beskerm, beseer is. Ons sal nie toelaat dat geweld en intimidasie wortel skiet in ons skole nie. Wetstoepassers moet sorg dat die oortreders die volle gevolge van hul dade dra. Ons skole moet plekke van veiligheid, leer en groei wees, nie slagvelde nie.”
Die DA het die voorval veroordeel.





