MINNEAPOLIS, VSA. – Twee kinders is dood en 17 mense is gister gewond in ’n skietery by die Annunciation Katolieke kerk in Minneapolis.
Lees ook: Sowat agt mense dood en verskeie beseer in Russiese aanval op Oekraïne
Die skieter, Robin Westman (23), wie se ma voorheen by die kerkskool gewerk het, het om die kerkgebou, aangrensend aan die skool, geloop en deur die vensters op die kinders begin skiet wat ’n kerkdiens op die derde dag van die nuwe skooljaar bygewoon het.
Westman het homself hierna geskiet.
Die kinders wat oorlede is, was 8 en 10 jaar oud. 14 ander kinders en drie bejaarde kerkgangers is gewond, maar sal na verwagting oorleef.
Die FBI-direkteur, Kash Patel, het gesê die skietery word ondersoek as ’n terreuraanval en ’n haatmisdaad teen Katolieke. Die FBI en die Minneapolis-polisiedepartement ondersoek die skietery.
Owerhede kon nog nie vasstel wat die motief vir die skietery was nie, maar die nota wat Westman geskeduleer het vir plasing ná sy dood op sosiale media, is sedertdien verwyder.
Westman het in 2020 ’n naamsverandering ondergaan omdat hy as ’n vrou identifiseer het.
Bronne: Euronews, BBC, PEOPLE
Lees ook: Sowat agt mense dood en verskeie beseer in Russiese aanval op Oekraïne





