Gauteng. – ‘n Skoonpa (42) is Saterdag in Lakefield in hegtenis geneem na ‘n beweerde struweling waartydens sy skoonseun glo raakgeskiet is.
Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi het daar na bewering ‘n woordewisseling tussen die skoonseun en sy vrou (die verdagte se dogter) ontstaan, waartydens die pa tussenbeide getree en sy skoonseun glo met ‘n vuurwapen gedreig het. ‘n Struweling het tussen skoonpa en skoonseun ontstaan en die haelgeweer het glo afgegaan en die skoonseun gewond.
Nevhuhulwi sê die Benoni-polisie het op verskeie vuurwapens en ammunisie by die verdagte se huis in Dalpark beslag gelê en die man is in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting op aanklagte van poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die Benoni-landdroshof verskyn.





