Brekende Nuus
Afrikaans

Skote op bestuurder van Land Cruiser ondersoek

Foto: Yusuf Abramjee X-profiel
Foto: Yusuf Abramjee X-profiel

Dave Smit, die eienaar van CSC Scrap Metals, is Donderdag vier keer getref toe daar op hom in sy voertuig geskiet is.

Yusuf Abramjee het Smit se toestand as kritiek maar stabiel beskryf.

Lt.kol. Mavela Masondo sê De Deur-polisie het ‘n klagte van ‘n skietvoorval op die R82 en R557 in Walkerville ontvang. Op die toneel aangekom, het polisielede gevind die slagoffer is reeds na ‘n hospitaal geneem.

Die slagoffer in die wit Toyota Land Cruiser het gery toe daar vanuit ‘n silwerkleurige Mercedes-Benz op hom geskiet is.

Die motief vir die ondersoek is onbekend. Daar word na die verdagtes gesoek.

Die polisie het ‘n saak van poging tot moord geopen.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

GAUTENG. – Skote wat gister in Walkerville, suid van Johannesburg op ‘n Land Cruiser geskiet is, is op kamera vasgevang.

Op die video-opname wat deur Yusuf Abramjee van Crime Watch gedeel is, kan gesien word hoe daar op ‘n wit Land Cruiser op die kruising geskiet word.

Die kom voor asof die Land Cruiser links probeer draai en dan deur ‘n silwerkleurige voertuig waaruit daar geskiet word, afgesny word.

Wanneer die skote hoorbaar klap, draai die Land Cruiser om en jaag terug na waar dit vandaan kom.

Volgens Abramjee is die slagoffer vier keer getref, maar het die aanval oorleef.

Foto’s hier onder wys koeëlgate in die Land Cruiser.

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.