WES-KAAP. – Pieter Retief (78) en Crystal, sy vrou, is Sondagmiddag in Murraysburg oorrompel en aangerand. Retief het aan sy beserings gesterf. Nog ‘n liggaam is op die toneel gevind.
Sers. Christopher Spies sê aan Nuusflits die polisie ondersoek die omstandighede van die dood van twee mans in Leebstraat, Murraysburg.
“Volgens rapportering is die plaaslike polisie omstreeks 13:00 na die toneel ontbied. Met aankoms op die toneel is ‘n man (79) met veelvuldige beserings buite die huis gevind. Hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.”
Spies sê Crystal is vir mediese hulp na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer, maar is later ontslaan.
“Die liggaam van nog ‘n man is deur lede onder die puin van die perseel wat afgebrand is, gevind.”
Deskundiges het die toneel vir leidrade gefynkam, daar word na ten minste drie verdagtes gesoek. Murraysburg-speurders ondersoek sake van moord, huisroof en brandstigting.
Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om sers. Siphokazi Mafuya by 082 559 4718 te bel.
Retief was die eienaar van die enigste slaghuis in Murraysburg. Hy is met staaldraad vasgemaak, waarna hy doodgeslaan is. Crystal, wat ook vasgemaak is, kon haarself na twee uur bevry.
Medelye het op die Weskus Jou Lekker Ding se Facebook-blad ingestroom.
Bronne: SAPD, Weskus Jou lekker Ding Facebook-blad en Graaff-Reinet Advertiser





