WES-KAAP. – ’n Groep vriende het Donderdagaand vyf aanvallers wat in Camphill Village naby Philadelphia by ‘n huis ingestorm het en selfone geëis het, met stokke verdryf.
Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die voorval het omstreeks 19:30 plaasgevind terwyl die klaer en sy vriende by die huis gebraai het. Vyf onbekende aanvallers het na bewering die huis binnegedring en die groep met stokke gedreig, waarna ’n geveg ontstaan het. Die slagoffers het teruggeveg en die aanvallers volgens die polisie oorrompel. Die vyf booswigte het sonder enige buit op die vlug geslaan.
’n Saak van poging tot roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer, is geregistreer. Geen inhegtenisneming is nog gemaak nie en die ondersoek duur voort.