Slegs nege kospakkies in drie maande in die Oos-Kaap

Lees ook :

Nuwe syfers wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling bekend gemaak is, wys dat slegs nege kospakkies in die hele Oos-Kaap gedurende die eerste drie maande van 2025 uitgedeel is.

In ’n geskrewe antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA, het LUR Bukiwe Fanta bevestig dat net twee kospakkies in Januarie afgelewer is, geen in Februarie nie en slegs sewe in Maart. Dit terwyl die departement R6,1 miljoen begroot het vir voedselhulp in die 2024/25-boekjaar.

Marlene Ewers, MPL – DA-skaduminister vir maatskaplike ontwikkeling, sê hierdie is nie ’n administratiewe glips of dokumentasieprobleem nie. “Dit is ’n katastrofiese ineenstorting van basiese dienslewering, te midde van stygende hongersnood en voedselonsekerheid.”

Ewers sê die departement se onvermoë om selfs tien kospakkies in ’n kwartaal af te lewer, moet beskou word teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se “skokkende verslag” oor kindervoedingstekorte in die Oos-Kaap. Dié verslag toon dat 1 087 kinders tussen April 2021 en Maart 2022 met ernstige akute wanvoeding gediagnoseer is – van wie 116 kinders oorlede is.

Dieselfde verslag wys ook dat die departement in daardie tydperk R67 miljoen aan onbestede noodhulpfondse verloor het – geld wat direk aangewend kon word vir kos vir honger gesinne.

“Hierdie feite ontbloot ’n departement wat heeltemal buite voeling is met die krisis, vasgevang in swak beplanning, minimale samewerking, en ’n algehele gebrek aan dringendheid. Terwyl amptenare verwys na voedingsentrums en kos-tuine, is die werklikheid in gemeenskappe radikaal anders. Duisende mense gaan slaap honger en die strukture wat hulle moes ondersteun, stort ineen onder swak leierskap,” sê Ewers.

Die Demokratiese Alliansie doen ’n beroep op ’n onmiddellike oudit van kospakkieverspreiding en gebruik van noodhulpfondse in al die distrikte. Die DA dring verder aan op maandelikse, deursigtige verslae oor voedselhulp per distrik en munisipaliteit.

“Die Oos-Kaap regering móét dringend die SAHRC se aanbeveling implementeer om kinderwanvoeding as ’n provinsiale ramp te verklaar. ’n Taakspan moet ook dadelik ingestel word om die sistemiese mislukkings in voedselhulp aan te spreek. Hierdie gaan nie meer oor stadige dienslewering nie – dit gaan oor verlies van menswaardigheid en lewens. Ons kan nie toekyk hoe die armste gesinne honger ly terwyl kos bly lê en geld nie gespandeer word nie. Die Oos-Kaap verdien ’n departement wat werk, nie een wat toesien hoe kinders in stilte ly nie.”

Hier is die departement se volledige antwoord.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief