KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou het glo Vrydagoggend vroeg tydens ‘n argument oor ’n liedjie-keuse haar man (42) in Waterloo in die kop gesteek.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing die man het dié diens omstreeks 01:10 vir hulp gekontak. Met aankoms het reaksiebeamptes die man met ‘n bloeiende kopwond aangetref. Hy het verduidelik dat hy en sy vrou glo saam alkohol gebruik het terwyl hulle musiek op ’n selfoon geluister het. In ’n stadium het die man glo ’n hiphop-liedjie begin speel, wat sy maat ontstig het. ’n Argument het ontstaan, waartydens die vrou glo ’n kombuismes gegryp en hom in die kop gesteek het. Sy het gevlug toe hy die Rusa-operasiesentrum vir hulp gebel het.
Die man het egter volgens Rusa mediese hulp van die hand gewys. Hy het wel hulp gevra om sy vrou op te spoor, maar sy kon nie gevind word nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





