Slenkdalkoors in Kakamas bevestig

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

NOORD-KAAP. – Slenkdalkoors (Rift Valley fever) is in skape in die Kakamas-gebied aangemeld. Jacobsdal Veearts het bevestiging ontvang van Upington- provinsiale veeartsenydiens van bevestigde gevalle. Positiewe resultate is in post mortem-monsters deur LNR/ARC in Onderstepoort, Pretoria bevestig.

Dr. Ben Jacobs en mnr. Inge Jacobs van Jacobsdal Veearts sê in ‘n sosialemediaplasing boere en kliënte word aangeraai om seker te maak dat hul entings op datum is en om van slenkdalkoors kennis te neem. Volgens dié kundiges kan uitbrake geassosieer word met grootskaalse aborsies, veral by kleinvee, maar ook grootvee en wild is vatbaar.

Boere word aangesê om biosekuriteit te verskerp en nie karkasse oop te sny nie. Die primêre oordrag van die siekte is deur muskiete. Dié veterinêre praktyk vra dat kliënte hulle kontak indien hulle enige verdagte aborsies by hulle vee opmerk.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is dit ’n soönotiese virus wat hoofsaaklik vee affekteer, maar mense kan ook besmet raak. Baie mense ontwikkel glad nie simptome nie, of kan matige griepkoors, spier- en gewrigspyn, hoofpyn en naarheid ondervind. Ander simptome kan nekstyfheid, ligsensitiwiteit, verlies van eetlus en braking insluit. In ’n klein persentasie mense kan die siekte baie ernstiger wees; dit kan oogprobleme veroorsaak (bv. retinale letsels), breinontsteking, of hemorragiese koors met bloeding.

Vee kan spontane aborsies ondervind – dit is dikwels een van die eerste tekens van die uitbraak. ‘n Hoë sterftesyfer is by jong diere aangeteken, terwyl ander simptome by aangetaste diere ‘n swak eetlus, verlies van gewig, swakheid en ‘n afname in melkproduksie kan insluit. Daar kan ook duidelike of bloederige vloeistof uit die neus, diarree (soms bloed) en braking wees.

Bronne: Jacobsdal Veearts, World Health Organization, NICD en CDC

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief