GAUTENG. – Luidens ‘n voorlopige verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is meer as R2 miljard wat bedoel was vir gesondheidsorg by Tembisa-hospitaal, glo sistematies deur drie misdaadnetwerke gesteel. Die ondersoek het beduidende onreëlmatighede, bedrog en korrupsie deur amptenare en diensverskaffers aan die lig gebring.
Volgens die SOE het hulle 2 207 aankoopdokumentbundels ontleed en ernstige wanadministrasie en bedrog gevind. Altesaam 207 diensverskaffers het onder 4 501 aankooporders met Tembisa-hospitaal handel gedryf, waarvan die meeste geld nie die hospitaal bereik het nie, maar is via frontmaatskappye en verskeie kanale na die bevoordeelde individue herlei.
Minstens 15 huidige en voormalige amptenare van die departement van gesondheid in die provinsie en die betrokke hospitaal word van korrupsie, geldwassery, sameswering en tenderbedrog beskuldig. Tot dusver is 116 dissiplinêre verwysings teen 13 amptenare opgestel.
Met betrekking tot die beweerde Hangwani Morgan Maumela-sindikaat is 1 728 aankoopbundels ter waarde van R816,5 miljoen ondersoek. Eiendomme in Bantry Bay (R75 miljoen), Sandton en Zimbaili, asook luukse motors soos Lamborghini’s en Bentleys is deel van die ondersoek. Die aantal geskatte bates beloop R520 miljoen. Met betrekking tot die beweerde Rudolph Mazibuko-sindikaat is 651 bundels van R283.5 miljoen ondersoek, met bates van R42.6 miljoen wat gevind is. Wat betref Sindikaat X is 1 237 bundels ter waarde van R596.4 miljoen ondersoek en bates van ongeveer R150 miljoen opgespoor. Kleiner sindikate en direkteurverbande is ook geïdentifiseer, met bedrae wat wissel van R3,4 miljoen tot R76,5 miljoen.
Na bewering is vals dokumente gebruik om die drie-kwotasiestelsel te systap. Bestellings is glo doelbewus verdeel om kompetisie te omseil. Geen goedere is by die hospitaal afgelewer nie en alle geld is glo na bates vir die betrokkenes omgeskakel. Ongewettigde betalings met ‘n totale waarde van R1.1 miljoen is ook aan nie-suksesvolle bieërs gemaak, wat geïdentifiseer is.
Die SOE sal siviele regsgedinge instel om geld en bates te herwin. Dissiplinêre optrede sal plaasvind en fluitjieblasers en ondersoekers sal tydens die ondersoek beskerm word.
Die ondersoek sal na verwagting teen November 2027 afgehandel wees.
Druk hier om die volledige verslag met lyste van bates te sien.
Bronne: SIU





