Foto’s en video’s in berig.
KWAZULU-NATAL. – Die soektog na die vermiste vlieënier (61), wat Donderdag net voor 14:00 met ‘n ZS-AEC Extra 300- ligte vliegtuig tydens ‘n solovlug by die Durban-lugskou by Noodstrand neergestort het, word vandag hervat. Dit is gister gestaak nadat owerhede ongeveer ‘n halwe seemyl van die land af in die see na die vlieënier gesoek het.
Luidens ‘n verklaring van Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê Lorenzo Taverna-Turisan van die NSRI ‘n uitgebreide soekoperasie, gekoördineer deur die lugvaart-soek-en-koördineringsentrum (ARCC), is aan die gang. Drie NSRI-reddingsvaartuie het ’n platform vir die polisie en metropolisie se soek-en-reddingsduikers gebied. Die NSRI, ‘n polisiehelikopter, Netcare 911-ambulansdiens, munisipale lewensredders van eThekwini, die SAPD, ALS Paramedics, eThekwini se brand-en-reddingsdienste en lugvaartowerhede het aan die soektog deelgeneem. Die NSRI van Durban en Umhlanga was ten tyde van die ongeluk naby en op die water.
“Ten spyte van die onmiddellike en vinnige reaksie en die voortgesette uitgebreide see-en-lugsoektog deur onder andere polisieduikers, metropolisieduikers, ’n polisiehelikopter en die NSRI-reddingsvaartuie, is daar steeds geen teken van die vermiste man nie,” het Lambinon gesê.
’n Ondersoek sal deur die polisie en die afdeling vir ongeluk- en insidentondersoeke (AIID) geopen word. Lt. kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die polisie en privaat rolspelers het dele van die wrak uit die see gehaal.
Die oorsprong van die video-opnames is onbekend.

Foto’s: ALS Paramedics
Lees ook meer hier onder:





