GAUTENG. – Leon Santos Conga (48) is deur die Pretoria-landdroshof vir verkragting tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is vir poging tot moord nog 10 jaar tronkstraf opgelê.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die hof het bevind daar was geen gronde om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.
Lees AfriForum se privaatvervolgingseenheid se verklaring hier.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die vonnis kom nadat Conga vir Antoinette Ndishishi, sy gewese meisie, verkrag het, terwyl hy van sy MIV-status bewus was. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Conga en die slagoffer was sedert 16 Desember 2016 tot April 2017 in ‘n verhouding. Die slagoffer het op 1 Desember 2016 ‘n negatiewe HIV-toets gedoen. Sy het aangedring om Conga se status te weet. Hy het gesê hy is MIV-negatief.
Die slagoffer het egter ten alle tye op die gebruik van ‘n kondoom aangedring. Conga het die kondoom twee keer tydens omgang verwyder. Die slagoffer het siek gevoel en het weer ‘n MIV-toets laat doen en die uitslag was dié keer positief. Conga het ontken hy het haar aangesteek. Die slagoffer het die insident in Mei 2017 by die polisie aangemeld, waarna ‘n saak eers op 9 Julie 2017 geopen is. Die saak is gedurende 2018 verskeie kere uitgestel en later weens onvoldoende bewyse van die rol geskrap.
“Ná ondersoeke en die vereiste bewyse van die SANW verkry is, is die saak egter op 21 Augustus 2021 weer op die rol geplaas en Conga het in die hof verskyn.”
Conga het geargumenteer die slagoffer het die kondoom verwyder en het ontken hy het die MIV-virus aan haar oorgedra. Prof. Terresa Russouw, ‘n deskundige, het vir die staat oor MIV en die effek daarvan getuig. Die staat kon voorts bewys Conga het op 8 Oktober 2007 reeds positief vir MIV getoets. Hy was deurentyd van sy status bewus.
Die slagoffer het ter verswaring van die vonnis oor die impak van die siekte op toekomstige verhoudings, of kinders, getuig.
Die NVG het die vonnis verwelkom en het die rol wat AfriForum in die suksesvolle skuldigbevinding van die saak gehad het, waardeer.
Nuusflits het voorheen soos volg berig.