Sowat 20 leerlinge in ongeluk beseer, bestuurder van leerdervervoer in hegtenis

Lees ook :

Foto: JMPD

GAUTENG. – Sowat 20 leerlinge, verbonde aan Hoërskool Greenside, Hoër Meisieskool Parktown en Hoërskool Roosevelt is Maandagoggend omstreeks 07:00 in ‘n ongeluk met leerdervervoer, naby die West Park-begraafplaas in Johannesburg, beseer. Johannesburg-metropolisie (JMPD) het die bestuurder van die voertuig vir beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem.

Luidens ‘n verklaring van Steve Mabona, onderwyswoordvoerder, het die voertuig volgens voorlopige verslae glo teen ‘n hoë snelheid gery toe die bestuurder beheer verloor en die voertuig op die draai by West Park-begraafplaas omgeslaan het. Owerhede was kort ná die ongeluk op die toneel teenwoordig om hulp te verleen. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Volgens beskikbare inligting was 13 leerlinge van Hoërskool Greenside, vier leerlinge van Hoërskool Rooseveld en drie leerlinge van Hoër Meisieskool Parktown in die ongeluk betrokke. Die leerlinge is ná die ongeluk na verskeie gesondheidsfasiliteite vervoer. Die meeste van die leerlinge is behandel en daarna ontslaan. Een leerling van Greenside is steeds in die hospitaal en sal ’n operasie ondergaan.

Die departement het sielkundige ondersteuning vir alle leerlinge en hul families gereël om met herstel en traumaberading te help. Beamptes is Maandag na elke skool en hospitaal gestuur om die toestand van die leerlinge te verifieer en met hul families te skakel.

Matome Chiloane, die provinsiale LUR, sê: “Ons is dankbaar dat daar geen sterftes was nie en spreek ons dank uit teenoor nooddienste, skoolbestuur en ons beamptes wat vinnig gereageer het. Ons bly in gesprek met relevante owerhede om die oorsaak van die ongeluk vas te stel en aanspreeklikheid te verseker. Ons doen ’n beroep op alle leerdervervoerbestuurders om te alle tye die veiligheid van ons leerlinge eerste te stel. Ons wens al die leerlinge ’n spoedige herstel toe.”

Luidens ‘n verklaring van JMPD is die bestuurder van leerdervervoer in hegtenis geneem nadat hy in Westpark-rylaan, Montgomery Park, Randburg in ‘n ongeluk betrokke was. Die bestuurder van die wit Toyota Quantum-minibustaxi, wat as leerdervervoer gebruik word, het glo probeer verbysteek toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Op die toneel is vasgestel dat die bestuurder glo onder die invloed van alkohol was. Hy is in hegtenis geneem en is by die Sophiatown-polisiekantoor aangehou. Hy word deur klagte van roekelose en nalatige bestuur en bestuur onder die invloed van alkohol in die gesig gestaar.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief