GAUTENG. – Die polisie se spesiale elite taakmag het Maandagmiddag ‘n beweerde ontvoerder doodgeskiet en nog vyf in hegtenis geneem. Twee ontvoerde slagoffers, 64 en 34 jaar oud, is gered.
Brig. Athlenda Mathe sê die twee slagoffers is glo Sondag ontvoer terwyl hulle op die Putfontein-pad in Crystal Park gery het. Na bewering is lospryseise dadelik aan familielede van die slagoffers gestel. Die polisie is in kennis gestel en die taakmag is gemobiliseer.
Die taakmag (STF – Special Task Force) het die spoor van die slagoffers na ‘n informele nedersetting in Crystal Park, Benoni, gevolg. ‘n Oor-en-weer-skietery het ontstaan waartydens een verdagte doodgeskiet en nog een gewond is. Die gewonde is onder polisiebewaking na ‘n hospitaal geneem en nog vier verdagtes in hegtenis geneem.
“Die SAPD verseker gemeenskappe wat moontlik slagoffers van hierdie tipe misdaad is, dat dit die nodige kundigheid en vermoëns het om sindikate wat by ontvoerings betrokke is, waar lospryseise gestel word, te onderskep.”
Verlede week is nog ses beweerde ontvoerders in hegtenis geneem en twee sakemanne gered.
Indien enige familie of vriende slagoffers van ontvoerders word, moet dadelik met die polisie in verbinding getree word.





