Kyk hier hoe die geld bestee is en wie waarvoor betaal het.
Gayton McKenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, het verduidelik hoe sowat R31 miljoen bestee is aan Suid-Afrika se deelname aan die Fifa-klubwêreldbeker in die VSA en Mexiko. Die verduideliking kom nadat vrae oor die uitgawes in die parlement en die media geopper is.
Volgens McKenzie is die geld nie vir persoonlike uitgawes gebruik nie, maar vir ‘n goedgekeurde program wat amptelike reise, die Suid-Afrika 2010 Legends-wedstryd, uitstallings, gasvryheidsgeleenthede, wedstrydkaartjies en bemarkings- en toerisme-aktiwiteite ingesluit het. Hy sê die program was daarop gemik om Suid-Afrika internasionaal as ‘n toerisme-, beleggings- en kultuurbestemming te bevorder. Hy het beklemtoon dat die amptelike afvaardiging uit 18 regeringsverteenwoordigers bestaan het, terwyl kunstenaars, voormalige Bafana Bafana-spelers, joernaliste, beïnvloeders en ander deelnemers ook deel van die groter afvaardiging was. Van die koste is volgens hom deur private borge gedra.
McKenzie het verder gesê sy eie reis- en verblyfkoste vir die vyf weke lange besoek het net meer as R1 miljoen beloop. Hy ontken bewerings dat staatsgeld vir familielede se reise gebruik is en sê sy familie het hul eie uitgawes betaal.
Volgens die minister is die departement se deelname aan die toernooi in ooreenstemming met sy mandaat om Suid-Afrika internasionaal te bemark en ekonomiese geleenthede te bevorder. Hy meen die besteding was ‘n belegging in die land se beeld, toerisme en toekomstige sakegeleenthede. McKenzie sê alle uitgawes is deur die vereiste goedkeuringsprosesse, tesouriereëls en ouditvereistes hanteer. ‘n Volledige afsluitingsverslag sal ná die finale verwerking van alle rekeninge aan die Parlement voorgelê word.
Lees meer hier onder:











