GAUTENG. – Die Gauteng-gesondheidsdepartement het in ‘n verklaring bevestig slegs 11 van sy fasiliteite se Telkom-landlyne is steeds af.
Verskoning word aan diegene wat sukkel om die hospitale telefonies in die hande te kry en ongerief verduur het, gevra. Sodra betaling van die landlyne by Telkom reflekteer, sal die lyne vir gebruik heraktiveer word.
Motalatale Modiba sê die lyne is af weens betalingsnavrae wat deur die diensverskaffer op fakture gemaak is. Die probleem behoort teen die einde van die week uitgesorteer te wees, alhoewel dispute oor geïdentifiseerde teenstrydighede steeds ‘n probleem is.
Chis Hani Bragwanath- akademiese hospitaal, Charlotte Maxeke Johannesburg- akademiese hospitaal, Steve Biko- akademiese hospitaal, Pretoria-Wes-hospitaal, Jubilee-hospitaal, Pholosong-hospitaal, Weskoppies-hospitaal, Verre Oos-Rand-hospitaal, Tarra H. Moross- psigiatriese hospitaal, Tshwane-distrikshospitaal en Carltonville-hospitaal word nog deur af telefoonlyne geraak.
Volgens Modiba is van die telefoonsisteme reeds na die Gauteng Provincial Voice Network-sisteem migreer, terwyl ander besig is om oorgeplaas te word.
Alternatiewe nommers kan op die webtuiste of soos hier onder aangedui, verkry word.








