GAUTENG. – Die Stad Ekurhuleni het Woensdag bevestigde inligting oor Dinsdag se noodlottige busongeluk op die R21 vrygestel. Altesaam 13 insittendes het gesterf, terwyl 77 beseer is.
Zweli Dlamini, woordvoerder vir Ekurhuleni, sê die ongeluk het omstreeks 06:30 naby die R24-vurk, naby OR Tambo Internasionale Lughawe plaasgevind. Nooddienste is ontbied, waarna ‘n insident-bevelspos opgestel is om die toneel te bestuur. 12 insittendes is op die toneel dood verklaar en een het later aan beserings in die hospitaal gesterf. Altesaam 77 insittendes van die bus is beseer en na verskeie gesondheidsfasiliteite vervoer. Agt van die beseerdes was kritiek, terwyl 40 ernstig beseer en 29 geringe tot matige beserings opgedoen het.
Dlamini sê die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) en die SAPD lei ‘n ondersoek om die oorsaak van die ongeluk vas te stel. Die ondersoek sluit geslotekring-televisie-beeldmateriaal wat deur Sanral opgeneem is, in. Ekurhuleni bevestig die MAN-passasiersbus het ‘n geldige padwaardigheidsertifikaat.
‘n Gesamentlike operasionele sentrum is opgerig om die publiek wat steeds na geliefdes soek, meer oor die ongeluk wil weet of sielkundige ondersteuning nodig het, by te staan. Die sentrum kan by 011 999 1920 gebel word.
Die Stad Ekurhuleni dra medelye aan die families van diegene wat hulle lewens verloor het oor en wens beseerdes spoedige beterskap toe.
“Verdere opdaterings sal verskaf word sodra meer inligting beskikbaar word.”