WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad sê fisiese aanranding bly ‘n bekommernis. Van die 1 761 hulpoproepe wat die naweek deur die openbare noodkommunikasiesentrum (PECC) ontvang is, was 175 vir fisiese aanranding.
Alderman JP Smith sê van die 175 aanmeldings was wapens in 108 voorvalle teenwoordig. In dieselfde tydperk is 218 verdagtes in hegtenis geneem en 56 903 boetes uitgereik. Volgens hom was dit die naweek in Junie met die meeste aangemelde aanrandingsake. In die meeste gevalle is wapens wat beserings kan veroorsaak, gebruik.
“Dit het ‘n kommerwekkende neiging geword, veral gedurende maandeinde-naweke.”
Smith versoek die gemeenskap en buurtwagte om voorvalle van aanranding en huishoudelike geweld te rapporteer.
“Die getal kan hoër, wees aangesien slagoffers dit dikwels, as gevolg van vrees of intimidasie nie aanmeld nie. Ons het almal ‘n rol om te speel – meld asseblief sulke voorvalle aan sodat ons onskuldige inwoners kan beskerm.”
Die metropolisie het 64 verdagtes in hegtenis geneem, van wie 42 dwelmverwant, drie vir bestuur onder die invloed van alkohol en nog 19 vir kontak-, vuurwapen-, eiendomverwante- en gesinsgeweldsmisdade was. Altesaam 2 720 boetes is uitgereik.
Wetstoepassingsoffisiere het 3 563 boetes uitgereik en 122 verdagtes in hegtenis geneem. Van hierdie inhegtenisnemings is 115 deur LEAP-beamptes gemaak. 75 van die inhegtenisnemings was vir dwelmverwante misdade.
Verkeersdienste het 50 620 boetes uitgereik en 32 verdagtes in hegtenis geneem. Van hierdie inhegtenisnemings was 25 vir dronkbestuur, twee vir roekelose en nalatige bestuur en vyf vir onder meer ‘n gesteelde voertuig, vervalste dokumente en aanranding van ‘n beampte. ‘n Totaal van 139 openbare voertuie is geskut en 1 361 lasbriewe vir inhegtenisneming is uitgevoer.
Die openbare noodkommunikasiesentrum (PECC), wat die oproepe van aanranding ontvang het, sê huishoudelike geweld het 51 van die oproepe uitgemaak. Altesaam 79 motorongelukke, waarin 20 voetgangers betrokke was, is aangemeld.





