Steve Biko-hospitaal sê oor behandeling van baba

Lees ook :

Foto: Rea Thusa/We Help

GAUTENG. – ‘n Twee weke oue babaseun, wat aan gastroskisis ly, is tydens besoektyd by Steve Biko Akademiese Hospitaal deur sy ouers in sy eie liggaamsvloeistowwe aangetref. Die hospitaal het Dinsdag van die klagte kennis geneem en onmiddellik begin om regstellende stappe te tref.

Lovey Mogapi, woordvoerder vir die hospitaal, het aan Nuusflits bevestig dat daar Dinsdagaand na die ma van die baba deur pasiëntsorg omgesien is en dat daar daagliks opvolgprosedures geïmplementeer word. Die ma het intussen haar tevredenheid uitgespreek oor die hospitaal se reaksie op die voorval.

“Sy het aan die media bevestig dat ons ingryping bevredigend was. Ons streef daarna om ‘n sentrum van tersiêre uitnemendheid te wees en stel altyd onmiddellik reg wat verkeerd is, en handhaaf wat goed is,” sê Mogapi.”

Die hospitaal het ook die “We Serve with a Smile”-veldtog, wat gerig is op die verbetering van verpleegsters se dienslewering, verder ontplooi. Intussen is ‘n Skarebefondsing vir baba Cameron begin om hom moontlik na ‘n privaat hospitaal vir verdere behandeling oor te plaas.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Terwyl staatshospitale in die nuus is oor swak sorg, moes ’n ma van ’n twee weke oue baba in Steve Biko Akademiese Hospitaal hoor: “You can clean it yourself,” nadat sy haar baba met sy gesig in sy eie ontlasting gevind het.

Virginia Keppler-Young van Rea Thusa/We Help het bevestig dat Nicole, die ma, die baba gedurende besoekure op 9 September met sy gesig, rug en hande vol ontlasting aangetref het. Die verpleegster aan diens het glo geweier om te help. “Hulle sê vir ons om ons hande te was en te ontsmet, maar los my baba in sy eie liggaamsvloeistowwe,” sê Nicole.

Die babaseun is op 26 Augustus, normaal en met ‘n gewig van 2.3 kg. gebore. Alhoewel hy per keisersnit gebore moes wees, het die dokter glo die lêer mis gelees. Die rede vir die keisersnit is omdat Nicole op 20 weke van haar swangerskap moes hoor haar baba is met gastroskisis gediagnoseer. En al het sy dit vir die dokter gesê, het hy ‘n keisersnit geweier.

Gastroskisis is ‘n geboortedefek van ‘n klein opening in die maagwand neffens die naeltjie waardeur die baba se ingewande na buite kan peul. Die grootte van die gaatjie verskil van baba tot baba. Ander organe soos die maag en lewer kan deur die opening druk.

Keppler-Young sê Nicole het gevra wat so groen is, en moes hoor dis ontlasting. Omdat die baba se maag nie normaal kan gaan nie, het hy ‘n pyp deur sy neus. Sy het gevra of die verpleegster haar sal help om hom skoon te maak en sy vuil beddegoed te ruil, maar is aangesê om dit self te doen. Nicole het skoongemaak en voel seergemaak omdat sy nie weet hoe lank haar baba so moes lê nie.

Keppler-Young sê die verpleegster het ook volgens die ma geweier om te help om die baba se suurstofpyp terug te sit, al het die dokter gesê die baba se stuurstof is laag.

Keppler-Young sê die hospitaal het die ouers intussen belowe dat beter sorg aan die baba gebied sal word nadat die voorval bekend geword het. “Dit is die tweede baba in minder as ‘n week wat gely het in die hande van diegene wat veronderstel is om vir hulle te sorg wanneer hul mammas nie by is nie.”

Rea Thusa/We Help is Keppler-Young en haar man Yusuf. Hulle staan op vir diegene wat hulleself nie kan help nie en gee hulle ‘n stem met gesondheidsorg, senior burgers se regte, GBV-slagofferondersteuning, ontspanning en kuns asook voedinskemabystand. Keppler-Young is ‘n oudjoenalis wat onder meer haar tyd gebruik om weerloses by te staan.

“Die minister van die nasionale en Gautengse gesondheidsdepartemente en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet hiervan kennis neem en mense aanspreeklik hou.”

National Department of Health (South Africa) Gauteng Health Department South African Human Rights Commission

Nuusflits het kommentaar van Steve Biko Akademiese Hospitaal gevra.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App