Die Afrikaans in die Vaal-konsert met Steve Hofmeyr en Refentse Morake is deur Emerald resort & Casino gekanselleer weens veiligheidsredes.
Die konsert, wat op 30 Maart sou plaasvind, is afgestel op aanbeveling van die plaaslike polisie en Emerald Resort & Casino se veiligheidsdienste.
Mark Hands, besturende direkteur van Emerald Resort en Casino sê dat die besluit nie ligtelik geneem is nie. “Ons vra om verskoning vir enige ongerief. Die keuse is gemaak op grond van ‘n bespreking met die polisie, asook hul assessering oor die moontlikheid van geweld.”
Volgens Hands is die gaste en personeel se veiligheid die belangrikste en sal die mense wat reeds kaartjies gekoop het, terugbetaal word.
Die kansellasie van die konsert kom egter kort nadat MTN, die selfoonnetwerk, aangekondig het dat hulle alle bande met Afrikaans is Groot-handelsmerk kanselleer omdat Hofmeyr by die produksie betrokke is.
MTN het in ‘n verklaring gesê dat die feit dat Steve by die produksie betrokke is, hulle bang is hulle verloor kliënte en dat hulle doel is om Suid-Afrikaners weer bymekaar te bring. “Steve gaan ons nie daarmee help nie,” lui die verklaring verder.
Die direksie van AIG het op hulle beurt gesê dat hulle vermoed die hele onttrekking van MTN is deel van ‘n verkiesingstrategie.