NOORDWES. – ‘n Stiefma (30) het Vrydag op aanklag van kindermishandeling in die Ventersdorp-landdroshof verskyn nadat kookwater oor ‘n meisie (7) uitgegooi is.
Kapt. Mpho Manyoba sê die beskuldigde het haarself Donderdag aan die polisie oorgegee toe sy bewus geraak het dat Potchefstroom-GKS na haar soek. Dit volg nadat ‘n klagte van beweerde kindermishandeling op 31 Januarie aanhangig gemaak is. Die meisie het beserings aan haar bene en bolyf in die insident in die Tshing-woonbuurt opgedoen.
Die beskuldigde het Vrydag op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die hof verskyn en is op R500 borg vrygelaat, waarna die saak tot 7 Maart uitgestel is.
‘n Forensiese maatskaplike werker het die meisie geassesseer. Ondersoek word gedoen om haar deur die departement van maatskaplike ontwikkeling by haar biologiese ma in KwaZulu-Natal te plaas.





