WES-KAAP. – Dwelms met ‘n geskatte waarde van R252 m. is Vrydagaand deur die polisie op Stilbaai onderskep. ‘n Man (48) van Gauteng en ‘n Russiese burger (39) is in hegtenis geneem.
Sers. Christopher Spies sê ‘n operasie is deur die plaaslike polisiestasie geloods na inligting ontvang is. Polisielede het ‘n Toyota Pajero met ‘n rubberboot op ‘n sleepwa volgens die beskrywing opgemerk en probeer voorkeer.
“Die voertuig het weggejaag en ’n jaagtog het gevolg.”
By die Jongensfonteinpad is die voertuig tot stilstand gedwing. Die verdagtes het volgens Spies uit die voertuig gespring en die bosse in gevlug. Polisielede was kort op hulle hakke en het die verdagtes by plaaslike akkommodasie in hegtenis geneem.
“Met deursoeking van die rubberboot het die polisie 14 sakke gevind wat 400 bakstene kokaïen bevat.”
Die voertuig en dwelms is gekonfiskeer.
Spies sê die verdagtes sal binnekort op aanklag van dwelmhandel in die hof verskyn.
“’n Ondersoek na die vonds is aan die gang. Hierdie aangeleentheid is vir verdere ondersoek na die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) oorgeplaas.”





