MPUMALANGA. – ‘n Vermeende stroper (32) is Donderdagaand tydens ‘n konfrontasie met veldwagters in die Krokodilbrug-seksie van die Krugerwildtuin geskiet en gewond.
Sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring veldwagters het omstreeks 07:30 die oggend mensspore opgemerk. ’n Operasie is dadelik van stapel gestuur en die spore is deur die dag in die rigting van die park se suidelike grens gevolg.
Teen 20:00 het veldwagters op twee gewapende verdagtes afgekom. Toe hulle beveel is om stil te staan, het die mans probeer vlug en oor ’n heining probeer klim. Een verdagte het glo ’n geweer op die wagters gerig, waarna hulle in selfverdediging op hom geskiet het. Albei verdagtes kon oor die heining kom.
Een het sy geweer laat val en naby ’n suikerrietland ineengestort. Hy was in besit van ’n rugsak met twee renosterhorings en ’n mes. Hy kon geen permitte toon vir sy teenwoordigheid in die park of vir die vuurwapen wat herwin is nie. Die tweede verdagte het in die suikerrietlande ingevlug en word steeds gesoek.
Die gewonde verdagte is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van betreding van ’n nasionale park, onwettige jag, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n gevaarlike wapen. Hy is vir behandeling na ’n hospitaal geneem en sal sodra hy medies geskik verklaar is, in die Masoyi-landdroshof verskyn