LIMPOPO. – Masindi Sifundo (20) van Miluwani het vlugtig op ‘n aanklag van moord in die Thohoyandou-landdroshof verskyn nadat hy na bewering Vrydag sy vriendin (20) in verblyf buite die kampus met ‘n mes gesteek en daarna van die tweede verdieping deur ‘n venster gespring het.
Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Sifundu en Nevhukalanga Vhulondo was in ‘n verhouding en beide was studente van die Univesiteit van Venda. Vhulondo is met ‘n mes gesteek en het aan haar beserings beswyk. Toe veiligheidspersoneel by die kamer opdaag, het die beskuldigde glo deur ’n venster van die tweede verdieping gespring en sy bewussyn verloor. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.
Die saak is vandag vir verdere ondersoek deur die hof tot 26 November uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie is na ‘n toneel ontbied waar die liggaam van ‘n vroulike student met veelvuldige steekwonde in ’n plas bloed gelê het. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte en sy vriendin in sy kamer aan die stry geraak het. Kort daarna is ‘n geskree gehoor. Nooddienste is ontbied, maar die vrou het aan haar beserings beswyk. Die verdagte het glo probeer vlug deur by ’n venster uit te spring en het beserings opgedoen. Hy is onder polisiebewaking in ’n mediese fasiliteit behandel.





