Brekende Nuus
Nuus

SA verwelkom uitspraak oor volksmoord in Mianmar

Foto: Ter illustrasie

NEDERLAND. – Suid-Afrika het die Internasionale Geregshof se uitspraak van Donderdag verwelkom dat Mianmar tydens militêre operasies in die noorde van die deelstaat Rakhine in 2017 volksmoord teen die Rohingya-minderheid gepleeg het. Gambië het die saak in 2019 aanhangig gemaak. Dit is die eerste keer dat dié hof ’n staat vir volksmoord skuldig bevind.

Rohingya is ’n hoofsaaklik Moslem-minderheid in Mianmar. In 2017 het Mianmar se weermag ’n veldtog in die noorde van die deelstaat Rakhine gevoer waarin meer as 10 000 Rohingya volgens die Internasionale Geregshof doodgemaak is. Verkragting was aan die orde van die dag en honderdduisende het na die buurland Bangladesj gevlug.

Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê Suid-Afrika sal die uitspraak bestudeer vir die moontlike uitwerking daarvan op ander sake ingevolge die Volksmoordkonvensie, waaronder Suid-Afrika se saak teen Israel. Die hof het Mianmar gelas om die veilige terugkeer van ontheemde Rohingya moontlik te maak en vergoeding te betaal. Die bedrag sal later bepaal word. 

Mianmar se ministerie van buitelandse sake het die uitspraak as ’n groot teleurstelling beskryf en daarop gewys dat die regters met nege stemme teen ses beslis het.

Druk hier om meer te lees.

Bronne: VN, Dirco, Mianmar se amptelike reaksie