Swaar vonnisse ná wrede plaasaanval op bejaardes

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

VRYSTAAT. – Sechaba Silence Maseli (29) en Sammy Pakiso Paint (38) is swaar gevonnis nadat hulle skuldig gepleit het op aanklagte van ‘n gewelddadige plaasaanval en ontvoering van ‘n boer en sy vrou, Gerald (81) en Althea Diedericks (78), naby Smithfield. Die bejaarde egpaar is deur gewapende aanvallers oorval toe hulle ná kerk by hulle huis teruggekom het.

Volgens polisiewoordvoerder, brig. Thandi Mbambo, het die vrou op 3 Augustus 2025 ‘n oop deur opgemerk en het eerste die huis binnegegaan waar sy op die aanvallers afgekom het. Sy is oorrompel en met ‘n mes in die hand gesteek. Sy is daarna gedwing om haar man buite te konfronteer, waarna albei slagoffers met kabelbinders vasgebind en in die huis aangehou is. Die beskuldigdes het die huis geplunder en selfone, kontant en juweliersware gebuit. Die boer is afgepers en gedwing om R15 000 elektronies na ‘n rekening van een van die beskuldigdes se familielede oor te betaal. Nog geld en items is uit ’n kluis gesteel voordat die beskuldigdes met die boer in sy Mercedes-Benz weggejaag en hom later vasgebind aan ’n boom agtergelaat het.

Ten spyte van haar beserings het die vrou haarself losgekry en ’n berg uitgeklim om selfoonsein te kry, waarna sy hulp ontbied het. Boere in die omgewing en die polisie het vinnig gereageer en die beskuldigdes op pad na Bethulie voorgekeer. Hulle is in hegtenis geneem en al die gesteelde items, insluitend die voertuig, is teruggekry. Dit het later aan die lig gekom dat Maseli voorheen op die plaas gewerk het.

Die saak is deur speur.konst. Larochell Macpherson ondersoek, wat saam met die aanklaers ’n sterk saak opgebou het. Die beskuldigdes is albei tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Verskeie aanklagte se vonnisse word saam uitgedien en die beskuldigdes is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die beskuldigdes is vir roof met verswarende omstandighede tot 20 jaar, ontvoering vyf jaar, oortreding van die kuberwet vier jaar, bedrog vier jaar en die besit van eiendom wat vermoedelik gesteel is een jaar tronkstraf opgelê.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief