GAUTENG. – Buti Alfred Samoen (42) van Mamelodi is deur die Pretoria-hooggeregshof tot lewenslank en 30 jaar bykomend vir die moord op Modingoane Pitjadi (27), ‘n e-hailing-bestuurder, gevonnis.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Samoen is lewenslank gevonnis vir die moord en vir twee klagtes van roof met verswarende omstandighede 30 jaar direkte tronkstraf, poging tot moord 10 jaar direkte tronkstraf, ontvoering 5 jaar direkte tronkstraf, vir aanranding met die doel om ernstig te beseer 5 jaar direkte tronkstraf, vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen 3 jaar direkte tronkstraf, vir die onwettige besit van ammunisie 2 jaar direkte tronkstraf, vir die rig van ‘n vuurwapen 2 jaar direkte tronkstraf en vir opsetlike saakbeskadiging ‘n verdere direkte 2 jaar tronkstraf opgelê. Alle vonnisse word gelyktydig uitgedien, behalwe 30 jaar wat aan hom opgelê is vir twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Samoen is dus tot lewenslank plus 30 jaar tronkstraf gevonnis.
Pitjadi het op 10 April 2022 van Nellmapius gery toe hy deur Samoen gekaap en ontvoer is. Samoen het hom by sy huis in Mamelodi-Oos vermoor en sy liggaam in Phomolong- informele nedersetting gelos. Hy het egter aanhou ry met die oorledene se Hyundai Accent.
Op dieselfde dag het Samoen en ‘n makker ‘n tweede slagoffer in Moretlwastraat in Mamelodi tot stilstand gedwing en beroof. Tydens die rooftog het Samoen die slagoffer se seun (27) in die been geskiet. Die twee het van die toneel gevlug, maar ‘n saak is teen hulle geregistreer. Samoen is na ‘n familiewoning in Mamelodi waar hy ‘n familielid van diefstal beskuldig en hom met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en sy tannie met die vuurwapen gedreig het. Hy het daarna gevlug.
In Mei 2022 is Samoen terug na die familiewoning waar hy die huis beskadig het. Samoen is in Junie van dieselfde jaar deur die polisie by sy meisie se huis in Nellmapius in hegtenis geneem.
Mahanjana sê Samoen het op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging skuldig gepleit, maar onskuldig op al die ander aanklagte. Die staat kon egter sy saak bo redelike twyfel bewys.
Samoen, wat sedert sy inhegtenisneming in aanhouding was, het die hof gevra om nie die voorgeskrewe minimum vonnis op te lê nie, omdat hy twee kinders moet versorg en omdat hy reeds ‘n aansienlike tyd in aanhouding was.
Adv. Thembile Nyakama het egter voorgehou hy is nie ‘n eerste oortreder nie en het twee uitstaande sake teen hom gehad. Daar is ook gesê hy het geen berou gehad nie en het tyd gehad om te rehabiliteer. Hy het weer misdade gepleeg terwyl hy op parool was.
‘n Slagofferimpakverklarings van die oorledene se suster, sy tannie en neef is aan die hof oorhandig, waarna waarnemende regter Matlapeng Samoen gevonnis het.
Die NVG het die vonnis verwelkom.