KWAZULU-NATAL. – Vyf liggame, insluitend dié van Jayseelan (Jayce) Perumal, is uit die puin van ’n vierverdiepingtempel gehaal wat Vrydag by River Range Ranch in Redcliffe ineengestort het. Die puin word sedertdien vir moontlike oorlewendes deursoek. Perumal se seun, ‘n Rusa-beampte, was deurentyd op die toneel. Op foto’s kan gesien word hoe hy help om na oorlewendes te soek.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing Devan Perumal, dié diens se operasionele bestuurder en paramedikus, het drie minute nadat die noodoproep ontvang is, die eerste noodvoertuie na die toneel gelei,.
Op die ramptoneel het hy die wit Fiat Uno van sy vader opgemerk wat onder die gebou se puin vasgekeer was. Jayce Perumal, ’n elektrisiën, het gehelp met elektriese werk by die uitbreiding van die tempel toe die instorting plaasgevind het. Sy seun was nie bewus dat hy op die toneel gewerk het nie. Hy het na sy pa geroep totdat hulle kon kommunikeer. Sy pa het aan hom gesê dat hy deur sementpilare vasgekeer was en dat beide sy bene gebreek is. Pa en seun kon vir ongeveer ‘n uur kommunikeer.
Devan was vir drie dae op die toneel teenwoordig en aan diens, terwyl reddingswerkers voortgegaan het om vyf liggame uit die puin te haal. Jayseelan Perumal se liggaam is Sondag uit die puin gehaal. Sy seun is op die ramptoneel deur kollegas bygestaan toe hy sy pa moes uitken.
Families en vriende van die slagoffers het Vrydag opgedaag en foto’s en stemnotas van hul geliefdes aan die reddingswerkers gewys.





