CHINA. – Die atletiekbaan kry ’n nuwe soort deelnemer: humanoïede robotte wat nou ook begin meeding in wedlope. Tiangong Ultra,’n Chinese humanoïede robot, het tydens die Wêreldhumanoïede Robotspele in Beijing die 100 meter in 9,39 sekondes voltooi. Dit is vinniger as Usain Bolt se menslike wêreldrekord van 9,58 sekondes, wat hy in 2009 opgestel het.
Tiangong Ultra het sy uitdunwedloop gewen nadat hy ’n ander robot, Lightning, naby die eindstreep verbygesteek het. Lightning het die afstand in 9,47 sekondes voltooi. Die prestasie beteken egter nie dat Bolt se amptelike wêreldrekord gebreek is nie. Die robotwedloop is ’n afsonderlike kompetisie vir humanoïede robotte en word nie volgens dieselfde rekordstelsel as menslike atletiek erken nie. Meer as 2 000 humanoïede robotte van 666 spanne uit 16 lande neem aan vanjaar se spele in Beijing deel.
Die robotte neem aan verskeie sportitems deel, waaronder hardloop, sokker en ander atletiek- en vaardigheidsitems. Volgens China Xinhua Sci-Tech het ‘n robot selfs geval en sy “arm gebreek.”
Bronne: China Xinhua Sci-Tech, ABC News, Associated Press, Beijing Munisipale Regering, Beijing Munispale Regering