KWAZULU-NATAL. – ’n 16-jarige seun is Woensdagoggend dood in ’n buitegebou by sy woonplek, Eenheid 13 in Esselen Crescent, Phoenix, aangetref. Volgens die familie is hy glo voorheen as gr. 10-leerling by Hoërskool Crystal Point betrap toe hy gedamprook het en was geskors.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die diens is ná 11:00 vir hulp ontbied. Die seun se ma het glo huishoudelike take verrig toe sy ‘n figuur in die buitegebou opgemerk het. Met hulp is die deur oopgebreek waar die tiener leweloos aangetref is.
Die seun het ná sy skorsing vir ’n kort tydperk na die skool teruggekeer, maar het glo daarna depressief geraak en geweier om weer skool toe te gaan. Hy het Dinsdagmiddag omstreeks 15:00 die huis verlaat en na bewering ontsteld gelyk, waarna hy nie weer teruggekeer het nie.
Die omstandighede van die voorval word ondersoek.
Menings oor die skorsing was in kommentaar op sosiale media verdeel – sommige het die skool blameer. Geraldine Mari het as ‘n onderwyseres te kenne gegee dat skole se gedragskode nie damprook toelaat nie, maar ouers laat hulle kinders toe om by hulle huise te damprook. Sy het genoem dat hierdie optrede kinders verwar en dat daar uit een mond gepraat moet word.






