WES-KAAP. – ‘n Tienerseun (15) wat van verkragting beskuldig word, sal weer op 9 April in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.
AO Joseph Swartbooi sê ondersoek na die bewerings duur voort. Die tienerseun is op 25 Februarie deur die Bishop Lavis-polisie in hegtenis geneem. Die seun het intussen in die hof verskyn en die saak is uitgestel.
Women For Change sê die seun is in sy huis in Bonteheuwel in hegtenis geneem. Hy word na bewering van verkragting op agt minderjarige kinders verdink. Die polisie en maatskaplike werkers het hom in hegtenis geneem nadat hy glo vir ‘n vriend (12) daarvan vertel het.
Die seun is glo in Pollsmoor-tronk se aanhoudingsfasiliteit vir jeugdiges. Women For Change sê as gevolg van die erns van die saak en betrokke minderjariges kan meer inligting nie beskikbaar gestel word nie.
Bronne: SAPD en Women For Change





