GAUTENG. – Die Stad Tshwane het kennis geneem van ’n toename in laboratoriumbevestigde tifusgevalle in dele van Bronkhorstspruit en Hammanskraal. Die stad het inwoners versoek om nie onbehandelde rivier- of boorgatwater in huise te gebruik nie, maar slegs gesuiwerde en getoetste munisipale water vir drink- en kookdoeleindes.
Volgens die Stad dui voorlopige resultate van drinkwatermonsters wat onlangs geneem en getoets is, nie op ‘n verband tussen die gevalle nie. Die bron van die besmetting is ook nog nie bepaal nie.
“Ons neem hierdie verslae ernstig op en werk saam met die departement van gesondheid, die departement van water en sanitasie en die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) om die oorsaak van die toename te bepaal,” het dr. Nasiphi Moyo, burgemeester van Tshwane, gesê.
Sy het bygevoeg toetse wat op die stad se waternetwerk uitgevoer is, het tot dusver geen spore van Salmonella Typhi getoon het nie. “Terwyl ons saam met nasionale rolspelers werk om die bron te bepaal, het toetse van Tshwane se watervoorsiening geen verband met die tifusgevalle getoon nie. Ons waarsku ook teen die verspreiding van verkeerde inligting deur organisasies of individue,” het sy gesê.
Die Stad Tshwane het gesê dit bly verbind tot deursigtigheid en openbare gesondheid, en dat bygewerkte inligting met inwoners gedeel sal word namate die ondersoek vorder.






