TikTokker oor ‘crimen injuria’ en ander aanklagte in hof

Lees ook :

Foto: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – Njabulo Madlanga, ‘n TikTokker wat Reece Lopes, Milan Kruijer en Jude Fraser-Grant valslik op sosiale media beskuldig het dat hulle op 6 Julie 2023 “aapgeluide” teenoor haar en nog familielede in ‘n ry by Gold Reef City gemaak het, het gister vir die eerste keer in die Booysens-landdroshof voorgekom.

Barry Bateman, kommunikasiehoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid kon in Oktober 2023 ‘n beskermingsbevel teen Madlanga bekom om teistering en opsweping teen die klaers, wat deur hulle verteenwoordig word, te verhoed. Met die beskermingsbevel het Madlanga nie ontken sy het bewerings op sosiale media gemaak nie en volgens Bateman het sy dit as “haar waarheid” bestempel. Madlanga het op aanklagte van crimen injuria en die oortreding van die wet op kubermisdade in die hof voorgekom. Die saak is tot 7 Julie uitgestel.

Op die betrokke dag het die drie klaers en Madlanga in ‘n ry by Gold Reef City gestaan, toe ‘n groep mense voor die drie klaers ingedruk het. Madlanga het ‘n video van die drie klaers geneem en op TikTok geplaas en glo gesê die klaers het “aapgeluide” teenoor swart mense gemaak. Die drie klaers is deur Madlanga se TikTok-volgelinge geïdentifiseer en aanlyn aangeval. Kruijer het Madlanga op 9 Julie gevra om die video te verwyder om kriminele aanklagte te keer. Madlanga het die versoek geïgnoreer en eerder die boodskap van Kruijer ook geplaas, wat nog verdere aanlyn aanvalle veroorsaak het.

Lees die volledige verklaring hier onder:

MEDIAVERKLARING: TikTokker wat valslik beskuldig maak eerste hofverskyning

Die TikTokker Njabulo Madlanga het vandag haar eerste verskyning in die Booysens-landdroshof in Johannesburg gemaak op klagtes van crimen injuria en die oortreding van die Wet op Kubermisdade nadat sy na bewering valse en lasterlike bewerings van rassisme teen drie klaers gemaak het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Reece Lopes, Milan Kruijer en Jude Fraser-Grant in hierdie saak. Madlanga se bewerings teenoor hulle is wyd op TikTok gedeel. In dié plasings beweer Madlanga dat die drie klaers aapgeluide teenoor haar en haar sibbe gemaak het terwyl hulle in ’n ry by Gold Reef City gewag het. Die klaers ontken dat dit gebeur het.

Die privaatvervolgingseenheid het in Oktober 2023 daarin geslaag om ’n beskermingsbevel teen Madlanga te bekom wat haar verhoed om die klaers verder te teister en ook om ander op te sweep om hulle te teister.

Madlanga het nie ontken dat sy die plasings gemaak het of die klaers van rassisme beskuldig het nie. Tydens die beskermingsbevel het sy haar plasings en bewerings verdedig as “haar waarheid”. Ten spyte daarvan dat sy drie persone afgeneem het terwyl hulle in ’n ry gestaan het, kon sy nie bewyse lewer om haar bewerings van rassisme te staaf tydens die verhoor vir die beskermingsbevel nie.

Madlanga se hofverskyning kom ná die privaatvervolgingseenheid aangekondig het dat hy vir Jaco Pieterse, die hoof van Bergview College, gaan help om strafregtelike klagtes teen verskeie prominente figure aanhangig te maak nadat hulle hom valslik daarvan beskuldig het dat hy ’n verdagte is in ’n kinderverkragtingsaak. Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit vir die slagoffer vernietigend kan wees om valslik van ’n misdaad beskuldig te word. “Te dikwels gebruik mense sosiale media om valse en onbevestigde bewerings te maak, terwyl hulle ten volle daarvan bewus is dat hul bewerings onbevraagtekend as die waarheid aanvaar sal word. Dit verhef daardie individue tot regter, jurie en laksman in hul eie sake. Geregtigheid sal nie in ’n omgewing geskied waar mense gewildheid op sosiale media bo die waarheid prioritiseer nie. Hierdie saak, sowel as die Bergview College-saak, moet wys dat valse bewerings teen mense ernstige gevolge het. Die howe moet ’n duidelike boodskap stuur dat om iemand valslik op sosiale media te beskuldig van ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie, nie geduld sal word nie en dat die beskuldigdes aanspreeklik gehou sal word,” sê Bateman.

Die saak is uitgestel tot 7 Julie sodat die dossier aan die verdediging beskikbaar gestel en ’n verhoordatum vasgestel kan word.

Agtergrond

Die voorval het op 6 Julie 2023 plaasgevind toe die drie klaers die Gold Reef City-pretpark besoek het. Terwyl hulle in die ry gewag het om op een van die ritte te gaan het ’n ander groep voor hulle ingedruk. Dit was op hierdie stadium dat Madlanga, wat in dieselfde ry gewag het, beweer het dat die klaers aapgeluide gemaak het. Sy het haar tot TikTok gewend waar sy vir haar volgelinge gesê het dat hulle net moet weet dat mense by Gold Reef City aapgeluide teenoor swart mense maak.

In ’n daaropvolgende TikTok-plasing identifiseer sy die klaers nadat haar volgelinge daarop aangedring het dat sy die “rassiste” moet identifiseer. Madlanga het ’n video van die drie klaers geneem terwyl hulle in die ry gestaan het. Madlanga se volgelinge het vinnig vir Lopes, Kruijer en Fraser-Grant identifiseer waarna hulle die teikens van ’n wrede aanlyn veldtog geword het. Die video is meer as twee miljoen keer gekyk.

Kruijer het op 9 Julie 2023 vir Madlanga ’n boodskap gestuur en die bewerings ontken dat hy en sy vriende enigsins geluide gemaak het en ook ontken dat hulle rassisties was. Hy het haar gewaarsku dat, indien sy sou weier om die plasings te verwyder, hy sou voortgaan om strafregtelike klagtes teen haar aanhangig te maak. Madlanga het nie die plasings verwyder nie en besluit om eerder ’n skermgreep van Kruijer se boodskap te plaas en te beweer dat sy geïntimideer word. Die plasing het verdere aanvalle teenoor die drie vriende tot gevolg gehad.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief