Brekende Nuus
Nuus

Hond dood in watertenk – man aangekla van dieremishandeling

Foto's: Kaap van Goeie Hoop DBV

WES-KAAP. – ’n Man (69) is Donderdag in hegtenis geneem en van dieremishandeling aangekla nadat twee honde dood by ’n eiendom in Factreton, Kaapstad, aangetref is. Een van die honde is onder ’n boom begrawe, terwyl die ander dood in ’n watertenk gevind is.

Die Kaap die Goeie Hoop-DBV sê hulle het omstreeks 15:00 ’n klagte ontvang nadat ’n getuie ’n hond in ’n groen JoJo-watertenk hoor huil het. Die hond was volgens die getuie nog lewendig en in nood. Die getuie het aangebied om die dier te neem, maar die man op die eiendom het na bewering geweier en gesê die hond moet gelos word.

’n DBV-inspekteur kon met ‘n besoek aanvanklik nie toegang tot die eiendom kry nie. Die Stad Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes van die hulpeenheid vir dierebeheer is ontbied. Met die eienaar se toestemming kon hulle uiteindelik die perseel betree. Die man het aan inspekteur Siviwe Noko, wat die ondersoek lei, gesê die honde was siek en dat hy hulle in die tenk gesit het om hulle te bad. Hy het gewys waar een van die honde begrawe is. Beamptes het die liggaam van ’n swart-en-bruin hond wat in ’n handdoek toegedraai en in ’n swart plastieksak geplaas is, onder  ’n boom aangetref. ’n Tweede hond, ’n klein bruin-en-swart gemengde ras, is dood in die water in die tenk gevind.

Albei honde se liggame is deur die DBV vir nadoodse ondersoeke en verdere ondersoek in ontvangs geneem. Die man is na Kensington-polisiekantoor geneem en sou na verwagting Vrydag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Die DBV doen ’n beroep op die publiek om gevalle van moontlike dieremishandeling aan te meld. Enigiemand wat ’n dier in nood hoor of sien, kan die Kaap die Goeie Hoop-DBV gedurende kantoorure by 021 700 4158 of 021 700 4159 kontak. Noodgevalle ná kantoorure kan by 083 326 1604 aangemeld word.