WES-KAAP. – ’n Russiese toeris (18) is Vrydagmiddag gered nadat hy ’n koue en nat nag alleen in die Jonkershoek-natuurreservaat naby Stellenbosch deurgebring het. Die jongman het ‘n noodgeval tydens ‘n solo-staptog op die uitdagende Panorama-sirkelroete ondervind.
David Nel, Wildernis-soek-en-redding (WSAR) se woordvoerder, sê volgens ‘n sosialemediaplasing die jong toeris het Donderdagoggend om 10:00 sy staptog begin nadat hy roetes aanlyn nagevors het. Hoewel hy toegerus was vir normale toestande, het hy nie die erns van die reën of hoe dit die terrein sou verander, voorsien nie.
Teen laatmiddag het slegte weer die paadjies in vlak stroompies verander en sekere dele van die roete was onbegaanbaar. ’n Vloed water van die berg af het sy roete versper en hy moes probeer omdraai. Omstreeks 16:00 het hy ’n boodskap aan ’n vriend gestuur dat hy moeg en in die moeilikheid is. Sy foonbattery het daarna pap geword voordat hy verdere besonderhede kon stuur. Met geen skuiling nie en ‘n dalende temperatuur het die stapper tussen rotse vir die nag skuiling gevind.
WSAR en CapeNature het Vrydagoggend meer as 20 vrywilligers en professionele persone gemobiliseer. GPS-data van die jongman se laaste bekende ligging is gebruik om na hom te soek. Die stapper is om 14:44 naby die ingang van die reservaat aangetref. Hy het ligdag begin terugstap en stadig sy pad na veiligheid gevind. Hy is deur ‘n paramedikus vir hipotermie behandel en na ‘n hospitaal geneem.
Nel sê: “Hierdie voorval wys hoe vinnig dinge in die berge verkeerd kan loop. Die berge is pragtig, maar dit verg respek en voorbereiding. Ons moedig alle buitelug-entoesiaste aan om weerwaarskuwings ernstig op te neem en veiligheid altyd eerste te stel. Hersien altyd die weer voordat jy vertrek. As dit riskant lyk, stel jou uitstappie uit. Moet nooit alleen stap nie. ’n Metgesel kan tydens noodgevalle jou lewe red. Berei voor. Dra geskikte klere, neem genoeg kos en water, en dra noodtoerusting saam. Ken jou perke. Kies roetes wat by jou fiksheidsvlak en ervaring pas. Belangrikste van alles: hou altyd die regte noodnommer, 021-937 0300, byderhand.”
Foto’s deur Jaco Janse van Vuuren, Rob Nel, Alfred Thorpe, Nic Shaw and Timothy Lundy
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





