Toermaatskappy-eienaar se moordenaar gevonnis

Lees ook :

Foto: Mawande Kondlo

WES-KAAP. – Waydon Bezuidenhout, eienaar van Cassandra Funerals is lewenslank vir moord tronk toe gestuur nadat Gladman Mawande Kondlo van Wandu Tours and Stay in Knysna se liggaam op 17 Januarie 2022 in bosse gevind is.

Eric Ntabazalila sê Bezuidenhout is deur die hooggeregshof in Knysna lewenslank vir moord, vyf jaar vir ontvoering en ‘n jaar vir regsverydeling gevonnis. Verskeie getuienis, van die polisie, misdaadtoneeldeskundiges, GPS- en selfoonkarteringkundiges, asook familie van die oorledene, is deur adv. Lenro Badenhorst vir die staat gelei.

“Die oorledene en die beskuldigde was vir meer as twee jaar vriende en het in dieselfde straat gebly.”

Kondlo is die laaste keer op 15 Januarie 2022 opgemerk toe hy saam met die beskuldigde en drie persone, onder andere ‘n vrou, in ‘n donkerkleurige motor geklim het. Toe Kondlo se liggaam gevind is, was sy bene en hande vasgebind, ‘n lap was in sy mond gedruk en ‘n swart sak was oor sy kop getrek.

Op 14 Januarie 2022 het Bezuidenhout ‘n sportnutsvoertuig vir ‘n begrafnis die volgende dag by The Crags, naby Plettenbergbaai, gehuur. Nadat bloed in die kattebak van die voertuig ontdek is, is die voertuigopsporingstelsel en die beskuldigde se selfoonspoor karteer.

“Dit is onthul die beskuldigde het die misdaadtoneel, waar die oorledene se liggaam gevind is, verskeie kere besoek.”

Bezuidenhout is in hegtenis geneem en het op aanklagte teen hom onskuldig in die hof gepleit, maar wou nie dadelik ‘n rede daarvoor verskaf nie. Nadat die staat sy saak gesluit het, het Bezuidenhout gevra om in camera te getuig, omdat hy inligting aan die staat wou oordra en vir hom en sy familie se lewens gevrees het.

“Hy sou mense impliseer, wat na bewering gewelddadig was.”

Hy wou geld vir ‘n lykswa vir sy besigheid hê en het met plaaslike dwelm kingpins ontmoet. Tydens die ontmoeting met Alastair Galant, Vusumzi Gungu, Yonele Best en Khaya Adonis is daar besluit hy gaan deel van die dwelmverspreidingsnetwerk word.

“Dit is duidelik gemaak dat, sodra hy in is, is daar geen uitweg nie. Hy het beweer dit is bekend Gungu bestuur die netwerk in Knysna en in sy fleur het dit die polisiemag, tronke en selfs die howe bereik.”

Bezuidenhout het weke voor die moord vir Galant, Gungu en Adonis by Galant se woonstel ontmoet. Hy is vertel Kondlo gaan vermoor word en glo ook gehoor hy is gekies om die moord te pleeg, aangesien hy en Bezuidenhout na aan mekaar was.

“Gungu het vuurwapens gebring en gevra Bezuidenhout moet sy wapen kies. Hy beweer Gungu het aan hom gesê dat hy reeds betaling vir die moord ontvang het. Hy het vir hulle gesê hy dink nie hy sal dit kan doen nie, maar hy sal dalk reg wees as hy dronk is.”

Daarna is hy aangesê die moord moet voor die naweek van 14 Januarie 2022 uitgevoer word.

“Hy het die werk aanvaar, aangesien hy geglo het dat hy nie met die groep kon redeneer nie. Hy het beweer Gungu het later vir hom gesê dat ‘n huurmoordenaar van Gqeberha gereël is om die moord te pleeg, aangesien hy wat Bezuidenhout is, nie die hart het om die oorledene dood te maak nie.”

Ntabazalila sê Bezuidenhout het aan die hof gesê hy het die aand van die moord die groep, insluitend die vrou van Gqeberha, in die oorledene se bed-en-ontbytfasiliteit aangetref.

“Die oorledene het by hom gepleit, maar die groep het die oorledene na die gehuurde sportnutsvoertuig gelei en Bezuidenhout is gevra om die kattebak oop te maak. Hulle het toe na die misdaadtoneel gery. Hy is gedreig om weg te gaan en vir niemand van die moord te vertel nie.”

“Tydens getuienislewering het Bezuidenhout homself by die moord betrek en alhoewel hy nie ‘n rede vir die moord verskaf het nie, het hy wel gesê Gugu wou Kondlo se besigheid hê.”

“Adv. Badenhorst het tydens die verhoor aangevoer die beskuldigde is ‘n hoofoortreder wat ‘n onbekende vrou en man gehelp het om die beskuldigde op die betrokke aand uit sy huis te ontvoer. Hy was saam met ander onbekende persoon(e) deel van die gemeenskaplike doel om die oorledene by wyse van vooraf ooreenkoms te vermoor. Bezuidenhout was dus ‘n hoofoortreder vir die misdaad van moord met voorbedagte rade.”

Die NVG het die vonnis verwelkom.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief