GAUTENG. – Patrolleerders op die N14 en R114, Lions Park-pad, het Maandagaand omstreeks 23:30 op ‘n tou afgekom wat aan ‘n boom vasgemaak is en oor die pad gestrek het. Daar word vermoed dat dit vir ‘n beplande voorval van skerpgemaakte ysterpenne (spiking) gespan is.
Volgens Live Traffic wek die plek waar die tou gevind is kommer, aangesien verdagtes daar in die bosse vir potensiële slagoffers blyk te lê en wag. Die lede van SDS Security Group wat op die tou afgekom het, het hulp met ‘n termiese skandeerder versoek om die verdagtes in digte bosse te probeer opspoor. Bidvest se lugvleuel het dadelik met termiese toerusting en nagsig-tegnologie reageer en die area vanuit die lug deursoek. Meer persone, wat die polisie insluit, het die soektog op die grond meegemaak.
Tydens die soektog is daar op ‘n nagemaakte vuurwapen en drankbottels afgekom. Die verdagtes kon volgens Live Traffic hierdie keer wegkom, maar hulle modus operandi en vermoedelike ontsnappingsroetes is bekend. Live Traffic sê voorts met die beskikbare inligting sal patrollies en monitering in die spesifieke gebied prioriteit geniet. Motoriste word aangeraai om ekstra versigtig op die roete te wees, veral waar dit geïsoleer is.
“Hierdie voorval beklemtoon die voortdurende bedreiging van misdade wat verband hou met skerpgemaakte ysterpenne in die area.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





