KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte is Dinsdagmiddag in Glenwood, Durban, deur die polisie in ‘n oor-en-weer-skietery doodgeskiet, nadat omstanders die oggend tydens ‘n transitorooftog gewond en gedood is.
Kol. Robert Netshiunda sê daar is na ‘n onbekende aantal verdagtes gesoek ná ‘n transitorooftog op die N2 in die suide van Durban. ‘n Onbekende bedrag geld is gebuit nadat ‘n kontantwa tot stilstand gedwing en twee veiligheidswagte aangerand en van hulle vuurwapens beroof is. Tydens die roof het die verdagtes skote op omstanders geskiet en verskeie persone beseer. Hulle het daarna deur Bayview en Silverglenrylaan op die vlug geslaan.
‘n Veiligheidswag wat agter hulle aan was, is geskiet en beseer. In ‘n poging om ‘n minibustaxi te kaap, is ‘n vrou deur die verdagtes doodgeskiet. ‘n Vroulike voetganger is ook geskiet en beseer.
Netshiunda sê die polisie het ‘n voertuig wat van die toneel van die transitoroof weggery het, onderskep na inligting ontvang is. Daar is op die polisie geskiet, waarop die polisie teruggeskiet het. ‘n Verdagte is doodgeskiet en nog een is met skietwonde onder polisiebewaking na ‘n hospitaal geneem. Die twee verdagtes is aan ‘n driedubbele moord wat in Januarie en dubbelmoord in Junie 2024 in die Ntambanana-polisiëringsarea plaasgevind het, gekoppel.
Netshiunda het voorts bevestig ‘n voertuig wat die oggend in KwaMakhutha gekaap is, is verlate in Mariannhill aangetref, met wat soos geldsakke lyk, binne-in. Die toneel was egter tydens die verklaring nog nie deur forensiese deskundiges verwerk nie.
Geen polisiebeamptes is tyens die skietery beseer nie.
Garith Jamieson van ALS Paramedics sê die diens is na verskeie tonele wat verband hou met die transitorooftog. Op die transitorooftoneel is verskeie pesone beseer aangetref en meer hulp is deur paramedici gemobiliseer. Drie veiligheidsbeamptes is op die transitorooftoneel behandel en na nabygeleë hospitale vervoer.
Ongeveer 500 m van die transitorooftoneel is ‘n bus met drie insittendes met skietwonde aangetref. Hulle is behandel en na hospitale vervoer.
Op die M1 Higginson-hoofweg op die N2-brug is nog twee persone met skietwonde gestabiliseer en na hospitale geneem.
In Silverglenrylaan in Chatsworth is nog drie persone geskiet. Twee vroue en ‘n veilgheidswag is aangerand het het skietwonde opgedoen. Een van die vroue het gesterf, terwyl die ander twee gestabiliseer en na hospitale vervoer is.









