Trauma nadat privaat skool mét kinders onder tornado deurloop

Lees ook :

Foto's: Verskaf

GAUTENG. – Caligro-privaat skool in Montana is op 18 Februarie om 16:45 gedeeltelik dakloos gelaat, nadat ‘n tornado in ‘n vernietigingstog deur die gebied beweeg het en alles in sy pad weggevee het. Leerlinge en personeel het erge trauma beleef.

Rudolph en Elaine van der Merwe, gesamentlike eienaars van die privaat skool op ‘n kleinhoewe van 2.1 hektaar, sê hulle moes noodgedwonge die besluit neem om die skool tot vandag (Vrydag) te sluit. Die skool met 54 personeellede huisves 424 leerlinge, van 3 jaar oud tot in graad 7, afsonderlik in Caligro Tots Academy of Caligro Private Primary.

Volgens Elaine was die ergste van die ondervinding die trauma wat almal op die perseel beleef het. Elaine sê sy moes hoor almal het van skrik en vrees gelyk gehuil en geskree, maar gelukkig het niemand beserings opgedoen nie. Na die tornado is leerlinge inderhaas ontruim en personeel wat die skool reeds verlaat het, het teruggekeer om te help, hetsy met ontruiming of emosionele bystand.

Elaine vertel Rudolph, 11 personeellede, naskoolleerlinge en sowat 30 kleuters was nog op die persele teenwoordig toe Moeder Natuur toeslaan. ‘n Vreesaanjaende sterk wind is eerste ervaar. Daar kon gehoor word hoe die dak van die kleuterskool se gebou van meer as 50 jaar oud, losskeur. ‘n Staalraam van die gebou het ook uit die fondasie losgeruk. Ten tyde van die tornado is kop gehou en dadelik met die kleuters weg van glasdeure af, na binne die strukture beweeg, waar daar teen ‘n binnemuur gestaan is.

Terwyl die storm voortwoed en die wind skade aangerig het, het die naskoolleerlinge slegs die wind beleef, aangesien hulle ook in ‘n nuwer gebou is, wat nie skade opgedoen het nie. Groot bome is ontwortel en ‘n hele boom het op ‘n klimraam te lande gekom. Agterna is gevind die klimraam het geen skade opgedoen nie. Die administratiewe deel van die skool, wat vyf beamptes huisves, het ook skade opgedoen.

‘n Gr. 2-meisie wat na haar ouers se motor gehardloop het, het gesien hoe die sinkplate van die dak af waai en dadelik in ‘n gebou skuiling gesoek. Agterna is ‘n sinkplaat gesien op die plek waar sy gehardloop het.

Elaine sê ‘n kleuterskoolpa wat sy dogter kom haal het, kon vanweë die wind beswaarlik sy motordeur oopmaak. Hy het na ‘n boom toe gehardloop, sy dogtertjie tussen hom en die boom geplaas en aan die boom vasgehou.

Ongeveer 60 personeellede en hulle families het opgedaag om die kleuterskool te help ontruim na ‘n gebied waar dit nie ingereën het nie. Die skool se versekeringsmaatskappy het ook werkers gestuur om die geboue en perseel verder te beveilig, sodat geen beserings opgedoen kon word nie. Rudolph en twee werknemers het tot Donderdagmiddag die perseel gehark om seker te maak daar is nie enigiets wat kinders kan seermaak nie.

Elaine voeg by sy vermoed herstelwerk kan maande duur, aangesien selfs die kombuiskaste skade het. Die laerskool het slegs geringe skade opgedoen en is nog heeltemal in gebruik. Die helfte van die kleuterskool is dakloos en slegs die ander helfte kon nog gebruik word. Elaine sê ten minste het hulle die geboue om nodige verskuiwings te maak, soos om die gr. R-klas na die laerskool te verskuif en kinders by mekaar te akkommodeer.

Assessors wat die skool reeds by twee geleenthede vir versekering besoek het, het die skade beraam en gesê ‘n projekbestuurder moet aangestel word.

“Ons gaan dit maar uitfigure soos ons aangaan. Die gebou is demolished, maar die grootste seën is dat daar geen beserings was nie en dit is die belangrikste. Ons is wel gedek deur versekering. Ons vertrou dat hulle alles gaan herstel.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief