MPUMALANGA. – Joseph Mahlangu (44) en Thandazile Mkuyane (42) is elk vir die beskadiging van noodskaaklike infrastruktuur 15 jaar direk tronk toe getuur.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigdes het in die nag van 30 Desember 2022 Kendal-kragstasie betree en kabels geknip. Hulle is gevang toe hulle die perseel wou verlaat en die polisie is in kennis gestel. Beide het onskuldig in die hof gepleit. Deur getuienis van veiligheidswagte en ‘n ingenieur is beide soos aangekla skuldig bevind.
Met die kabels wat geknip was, moes gasturbines tot ‘n koste van R960 000 gebruik word om beurtkrag te verhoed.
Vir die skade aan infrastruktuur is beide 15 jaar elk en vir die poging tot diefstal ses jaar elk gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en daarom sal die beskuldigdes effektief 15 jaar tronkstraf uitdien. Beide is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
“Om noodsaaklike infrastruktuur te beskadig, het ‘n ernstige impak op die gemeenskap en die ekonomie,” het Nyuswa gesê.