KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (35) is deur die Durban-hooggeregshof tot 20 jaar direkte gevangenisstraf vir moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, gevonnis, nadat sy haar kleuterdogter (3) op 31 Mei 2022 eers met ‘n koekroller aangerand en daarna verwurg het.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde het op die aanklagte teen haar skuldig gepleit. Sy het vertel dat sy dikwels haar kinders geslaan en met items gegooi het wanneer sy kwaad geraak het. Die beskuldigde het aan die hof gesê dat sy moeilike kinderjare gehad het, geweld ervaar en aanskou het, en as tiener verkrag is, wat daartoe gelei het dat sy haar eie lewe wou neem.
Met die oorledene se geboorte in 2019 het die beskuldigde in ‘n skuiling gebly. ‘n Vrou op sosiale media het aangebied om die kind te versorg, waarna die oorledene drie jaar by die pleegmoeder gebly het. Gedurende dié tyd het die beskuldigde met die pa van haar jongste kind getrou. Haar man, wat in die Verenigde Koninkryk woon, het haar aangemoedig om die kind terug te bring huis toe sodat hulle as ’n gesin kon saamleef. Die kind is toe teruggebring, maar die man moes terugkeer na die VK omdat sy SA-visum verval het. Hy het haar alleen met die drie kinders – nege, drie en een jaar oud – agtergelaat.
Op die betrokke dag het sy die jongste, wat aan gloukoom ly, na ‘n kliniek geneem. Terug by die huis het sy die jongste, wat gehuil het, sonder sukses probeer kos gee. Die oorledene het ook gehuil en wou ook nie haar voorbereide kos eet nie. Die beskuldigde het die kind kwaad en gefrustreerd met die koekroller oor haar lyf en kop geslaan. Met die gehuil wat nie opgehou het nie, het die oorledene haarself vuilgemaak, waarna die beskuldigde haar in die badkamer skoongemaak en woedend tussendeur geslaan het. Sy het die kind bly aanrand terwyl die ouer kind probeer keer het. Sy het haar uiteindelik verwurg totdat sy nie meer asemgehaal het nie.
Nadat die kleuter gesterf het, het sy haar aangetrek, in ‘n kombers toegedraai en haar man in die VK gebel om te sê wat sy gedoen het. Hy het ’n dokter en die polisie na die toneel ontbied. Die staat het slagofferimpakverklarings van die kind se pleegmoeder en suster aan die hof voorgelê. Die hof het weens versagtende omstandighede, insluitend haar skuldigpleit en vorige trauma, van ‘n lewenslange vonnis afgewyk.
“Hierdie saak beklemtoon die NVG se verbintenis tot geregtigheid, veral in sake wat kinders betrek,” het Ramkisson-Kara, gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





